Rudi Claase vier die jaar 21 jaar in die musiek bedryf, en het al meer as 700 treffers uit sy pen. Hy kom sing van die grootste treffers wat hy vir homself asook ander kunstenaars geskryf het, en vertel ons wat die inspirasie agter die liedjie was. Julle gaan dans, lag en huil met hierdie vertoning, moet dit nie misloop nie.
Rudi het al verskeie toekennings gewen vir sy sang en sktyf en het ook 'n Afrikoon toekenning gekry vir sy bydrae tot Afrikaanse musiek. Van My Wysie Af is nou die storie agter die storie, of die liedjies. Die liedjieskrywer, musikant en sanger het geen bekendstelling nodig nie. As jy vir Rudi Claase nie self ken nie sou jy al vir seker een van sy liedjies gehoor het want sewe honderd Afrikaans- en Engelse treffers het al uit sy pen gevloei. Sy laaste album, wat heel gepas “Liedjieskrywer” heet, was ‘n kommersiële sukses en met hierdie album het die sanger nie net sy veelsydigheid as liedjieskrywer en musikant gewys nie, maar hy het ook ‘n kant vir die publiek gewys wat min al gesien het en dit is getoonset in die doodeerlike lirieke van die snitte wat op die album is. “Ek vier hierdie jaar my een-en-twintigste jaar in die musiekbedryf en in hierdie werk vier ek die goed, die sleg, die vreemd en die ontnugtering,” vertel die sanger. Verder is hy heel ernstig wanneer hy sê, “soms raak almal van hulle wysies af.” Dié konsert gaan veel verder as net ‘n sanger wat op ‘n verhoog klim en van die liedjies sing wat hy vir ander groot name in die bedryf geskryf het. Hy maak geen geheim daarvan dat hy self met bipolêre gemoedsversteuring sukkel nie en was al verskeie kere in die media hieroor. “Depressie is niks om oor skaam te wees nie. Reik uit, praat met iemand. Om in stilte te ly is nie die antwoord nie.”